Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 9
Hoofstuk 9 – ʼn Nuwe Geheue
Zuluika voel ʼn opgewondenheid wanneer sy en Mauritz met hulle bagasie deurstap na haar kamer, ‘vir vandag is hulle alleen’, en die vreugde verstom haar.
Hy draai om by die deur, “Sien jou oor ʼn uur in die ontvangs,” hy weet hy moet nou eers ruimte tussen hulle kry voor hy iets baie dom doen, hy maak sy oë toe en die blydskap omdat sy hier is, spoel deur hom.
Zuluika gaan sit op die bed, en dit neem ʼn paar minute om die gevoel in haar tot rus te bring. Sy haal Margret se koevert uit haar sak, skeur dit oop, en haal die inhoud uit.
Zuluika, dankie hiervoor.
Ek moet die guns vra want ek is vreeslik bang vir wat voorlê, en dit wat verkeerd kan gaan. Ek weet jy sal dit vir my doen.
Ek sluit ʼn brief aan dokter Jean Tredoux in waarin ek haar vra om haar mediese opinie met jou te bespreek. Haar spreekkamer is by die Corvallis Familie Mediese kliniek in 400 NW Kings Boulevard.
Ek het dit telefonies met haar bespreek en vir jou ʼn afspraak vir Vrydag om twaalf uur gemaak, en ek bid dat jy dit sal kan nakom.
Gee haar my brief as rekord van my toestemming vir die deel van my inligting, en asseblief deel jou bevinding met haar.
Margret.
Zuluika maak die gevoude bladsy oop, sien dit is ʼn afskrif van Margret se Sosiale Sekerheidskaart van die VSA Maatskaplike Sekuriteitsadministrasie met haar handtekening en ʼn foto. Sy besef Margret is baie ernstig en sy weet sy sal die afspraak nakom.
Wanneer sy ʼn uur later in die ontvangs instap, is Mauritz reeds daar. Hy staan dadelik op en stap in haar rigting, “Gaan ons gou koffie drink en iets eet voor ons ontmoet in die saal om die roetine vinnig te oefen soos bespreek.”
Zuluika knik haar kop, sit haar hand op die arm wat hy aanbied en stap in stilte met ʼn warm gevoel in haar saam met hom die koue in.
Die eerste alleen wees uitgaan bring ʼn opgewondenheid in albei, ʼn opwinding wat albei weet die begin van ʼn wonderlike vier dae is. Hulle sit stil oorkant mekaar in die koffiekroeg, kuier oor die stomende bekers koffie met oë wat hul geluk weerspieël, albei weet, hulle is gelukkig bymekaar.
Hulle stap terug na die gastehuis, kry die viool- en hobo tasse, en stap stil langs mekaar na die universiteit, met ʼn afwagting wat albei vul.
Die jong mans wag opgewonde voor die universiteitsaal se ingang, en die glimlaggende jong gesigte kom lê in Zuluika se hart. Vir die eerste keer wens sy hulle sal wen, nie vir haarself nie, maar vir hulle en die organisasie wat hulle wil ondersteun.
Die saal is leeg, en Zuluika is bly niemand sal voor die konsert sien wat ‘die vyf’ oor die maand tot amper volmaaktheid gebring het nie.
Mauritz stap na verskeie plekke in die saal, vanwaar hy aandui waar op die verhoog hulle moet staan om te verseker die totale gehoor sal hulle kan sien.
Hulle verskuif die klavier volgens Mauritz se aanwysing, en wanneer Zuluika haar vingers oor die klawers laat gly, kom Mauritz tot rus, maak sy oë toe en voel die musiek in sy siel gaan lê. Hy maak sy oë oop en weet dit is een van die prentjies van haar wat hy vir ewig in sy gedagtes wil hou.
Die oefening gaan foutloos verby, en wanneer Zuluika vir Mauritz wink om op die verhoog te kom, skud hy eers sy kop in ʼn weiering, maar haar smekende gesig maak hom week en met ʼn draai van sy oë stap hy na haar toe.
Sy haal die viool uit en wink hom na die klavier, “Kom ons speel iets saam, net om te hoor hoe ons twee se musiek saam in hierdie pragtige saal sal klink.”
Hy weet hy wil dit doen, nie net vir haar nie, maar vir homself, vir die herinneringe wat hy besig is om bymekaar te maak.
Hy gaan sit agter die klavier en vra glimlaggend, “Wat sal dit wees Dokter?”
Zuluika soek in haar geheue vir die een lied wat sy ken, wat sy saam met hom hier wil speel, “Ken jy ‘Sting’ se ‘Every Breath you take.’”
Hy knik sy kop, laat sy vingers oor die klawers sweef, en wanneer die eerste note helder deur die lug kom, neem sy die strykstok, en saam met die musiek sweef die woorde in haar pragtige stem deur die saal, ‘Every breath you take, every move you make’, sy weet, dit is die mees perfekte oomblik van die afgelope tien jaar vir haar.
Die prag van die laaste noot word stil, sy lig die strykstok in Mauritz se rigting en wink ʼn saluut. ʼn Spontane handeklap ontstaan en Zuluika en Mauritz kyk verbaas op en sien ‘die vyf’ saam met professor Bernhardt Crafford en twee ander persone hulle staande toejuig.
Een oomblik is Zuluika heeltemal die kluts kwyt, en sy hoor die woorde van Thobile, ‘Wanneer dit wat die lewe daarbuite sal vra, vrees of twyfel bring, sluit jou oë, vind jou innerlike krag, maak dit jou vesting teen die vrees, laat dit jou stuur’.
Sy maak haar oë toe, vind die krag, en glimlaggend waai sy vir die klein gehoor, in haar is weer die dank, ‘Dankie Here vir die oefensessie om my voor te berei vir hierdie geleentheid, en die geleenthede wat nog sal kom’.
“Zuluika, julle is goed.” Kom dit van ʼn handklappende Bernhardt.
Sy en Mauritz stap in die rigting van die trappe, en dit kom beswarend van almal, “Ag nee Dokter speel nog iets, dit is so pragtig.”
Sy lag dit weg met ʼn, “Indien julle vyf tussen die eerste drie eindig, sal ek en Mauritz saam met julle een van die liedere aanbied wat julle geoefen het.”
Hulle lag luid en verseker haar, hulle gaan haar by die belofte hou, en Mauritz trek groot oë vir haar, maar knik instemmend.
Bernhardt stel hulle voor aan die twee persone, “Professor Rodger Slaughter verbonde aan die Mediese Fakulteit, en professor Jonathan Crosby verbonde aan die Musiek Departement en een van die organiseerders van die studente konsert.”
“Genade Zuluika, dit is nou ʼn verrassing. Jy is ʼn uitstekende violis.” Kom dit van Bernhardt.
Jonathan Crosby se stem dra die opgewondenheid wat ook op sy gesig te sien is, “Uitstekend is nie die woord nie, jy is geniaal Dokter.”
Zuluika voel die verleentheid oor haar spoel, voel Mauritz se arm om haar skouers, “Sy is voorwaar Jonathan, jy het in werklikheid nog nie die volle talent gesien of gehoor nie, Zuluika kan amper enige instrument speel, nie almal volmaak nie, maar omtrent almal.”
Zuluika gee Mauritz ʼn stamp met die elmboog wanneer sy besef hy herhaal die woorde wat sy ʼn paar weke gelede geuiter het.
Dit is D’Artnel wat haar vir die oomblik red, en terselfdertyd uitlewer, “Dokter Zuess is baie goed Professor, glo my, ons gaan wen, al is dit net om seker te maak dat sy en dominee Mauritz saam met ons ʼn nommer opvoer.”
Wanneer die drie besoekers weg is, skud Mauritz gemaak sy kop en glimlag, “Kyk nou in watse penarie jy ons twee nou het, dokter slim.”
Zuluika glimlag en knik instemmend, “Toemaar Mauritz, dit sal net gebeur indien ons groepie tussen die wenners is,” en sy glimlag in die rigting van die vyf.
“O, ons gaan wen Dokter, julle moet maar besluit watter lied ons almal saam gaan opvoer.” Kom dit ewe van Josh.
Hulle spreek af om Saterdag om tweeuur by die koffiekroeg, waar Josh haar ʼn maand gelede gevra het om meer studente te neem, te ontmoet vir middagete, voor hulle om vyfuur by die saal sal ontmoet.
Die jong mans groet opgewonde, en hulle besef, hulle is alleen, met net die groot oop ruimte wat hulle omvou.
Mauritz kyk op sy horlosie, neem haar aan die arm en trek haar saam met hom, “Kom ons gaan slenter deur ʼn paar winkels voor ons ʼn plekkie soek om aandete te eet.”
Sy volg hom gewillig, en saam met die opgewondenheid om tyd alleen met hom deur te bring, kom lê die seer van haar weggaan in vier weke in haar. Daar is egter ook ʼn ander versekering in haar, ‘Sy is reg om vir eers terug te gaan, om die verlede te gaan oopmaak en die waarheid te gaan vind’.
Buite die universiteit gebou, neem Mauritz haar arm, trek dit ferm deur sy arm, vat haar hand stewig vas in sy hand, en ook dit is reg met haar, en sy is gelukkig.
Die kuier deur die winkels bring ʼn ‘net twee mense wat gelukkig saam is’, gevoel in albei, en hulle rek dit uit, beide weet, die tyd saam is so kosbaar.
Hy sit die pakkies neer in haar kamer, weet hy moet nagsê en gaan, vanaand loop hy die gevaar om iets baie onverantwoordeliks te doen. Hy soen haar sag op die voorkop en stap met ʼn opwelling wat hom lam maak uit haar kamer.
Zuluika staan vir een oomblik stil voor sy op die bed gaan sit, sy beleef die gevoel van die sagte kus weer, en die trane val op haar hande, ‘Here hoe kan iets so wonderlik en so pynlik op dieselfde oomblik wees?’
Hulle eet saam ontbyt in die koffiekroegie, en hy stap saam tot voor professor Crafford se kantoor. Met ʼn, “Ek gaan bietjie by die Teologiese Fakulteit ʼn paar kennisse groet, ek kry jou binne ʼn uur weer hier.” Druk hy haar arm sag, en stap sonder ʼn woord verder die universiteitsgebou binne.
Sy hou hom dop terwyl hy lank en sterk met die kenmerkende trotse swart krulkop wegstap, en sy weet wat sy vir hom voel, en dit is pynlik.
Bernhardt Crafford is openlik bly wanneer sy die deur oopstoot, sodra sy die “Kom binne,” hoor. Hy staan op agter sy lessenaar en kom met ʼn uitgestrekte hand na haar. Sy vat sy hand en die warmte daarvan laat haar welkom voel.
Terwyl hy sy hand in die rigting van die gemakstoele wuif, sê hy, “Kom ons sit hier, en gesels oor die studente.”
Sy haal die lêers uit die aktetas wat Werner haar geleen het, en gee dit vir Bernhardt. Hy gaan sit en maak die eerste lêer oop, blaai vinnig deur die lêer en kyk op na haar. Sy sien die verbasing, en amper trots op sy gesig, en dit lig haar gemoed.
“Zuluika, wêreld, die verslae is nie net ʼn volledige rekord nie, maar absolute uitstekende besonderhede wat my soveel insae en terugvoer oor die maand se verrigtinge gee. Dit moes jou ure elke dag geneem het.”
Zuluika lag net, “Nee wat Bernhardt, dit is alles behalwe ʼn groot taak, dit is iets wat ek met graagte en trots doen. Die vyf is uitstekende dokters wat toegewyd werk, ek is trots op hulle.”
Bernhardt kyk haar een oomblik aan, skud sy kop, en begin met erns deur die verslae werk. Dit vat hulle ʼn geruime tyd om deur die vyf lêers te werk, en wanneer hy D’Artnel se lêer toemaak vra hy, “Weet jy wie D’Artnel Baker is?”
Sy skud haar kop, “Ek weet hy is ʼn pragtige mens, en ʼn toegewyde geneesheer, verder weet ek bitter min van sy persoonlike lewe.”
“Hy is senator D’Artnel Baker se seun.”
“Dit sou ek nie weet nie, ek weet ook nie wie senator Baker is nie,” sê sy laggend.
“Ek weet, want jy Zuluika Zuess, is moontlik een van ʼn handvol mense in die wêreld wat mense net oordeel vir wat hulle vandag is, en doen, nie wie jou ouers is, of wat reg of verkeerd is nie.”
Zuluika voel een oomblik se vrees by die hoor van die woorde, en sy bid, ‘Here sal U gee dat dit ook vir my so sal wees asseblief’.
“Dankie.”
“Jy is bietjie van ʼn misterie Zuluika. Ek wil hê jy moet weet ek het jou opgesoek op ‘Google’, en vir ʼn mens so begaafd soos jy, is daar bitter min op ‘Google’,” en hy trek groot oë vir haar.
Die geweldige vrees is in haar oor die eerste direkte verwysing en insae in haar verlede, maar Thobile se woorde is terug, ‘Daar sal vrae wees, van mense wat antwoorde verwag, dink en gee hulle die antwoord waarmee jy kan saamleef, ʼn antwoord wat jy weer, en weer, sal kan herhaal sonder om te vrees’, en sy weet sy kan.
“Bernhardt jy weet hoe dit gaan, hardwerkende gewone mense land nie op ‘Google’ nie.”
“Gewone mense Zuluika, nie geniale mense soos jy nie, maar die paar verwysings na jou is genoeg vir my, ‘Top Mediese student aan die Universiteit van Pretoria, een van die jongste gekwalifiseerde dokters in jou tyd’,” Weer die oog trek.
“Jongste lid van die Gautengse Filharmoniese Orkes, en een van die top violiste ter wêreld vir jou ouderdom op daardie stadium.”
Nou trek Zuluika groot oë, en lag van verligting, ‘Iewers in die wêreld is daar iemand wat al die verkeerd uitgewis het, en net ʼn paar wonderlike ‘goeie’ dinge gelaat het, om haar ʼn geleentheid te gee, medies of musiek, sy kan self besluit’, en die verligting is oorweldigend.
“Dit is seker genoeg Bernhardt.”
“Vir my definitief, en ek sê die volgende as ʼn vroeë waarskuwing aan jou vir wat dalk mag volg, dit was meer as genoeg vir Jonathan Crosby van die Musiek Departement. Hy kan nie ophou praat oor jou nie, ek dink hy gaan jou ʼn pos hier aanbied.”
Die vrees is terug, ‘hoe lank kan sy in ʼn verswygde leuen leef?’ Maar sy dwing die glimlag terug, en haar gesig moes komies gewees het, want Bernhardt lag hard, “Dokter jy lyk nie net verbaas nie, jy lyk geskok, waar het jy weggekruip tot nou dat jy nie weet hoe betowerend iemand soos jy vir gewone mense is nie.”
Zuluika laat dit verbygaan, sy weet Bernhardt het die leuen waarin sy vir tien jaar geleef het, oopgemaak en weer toegemaak. Sy weet die tien jaar oortuiging, ‘dat sy moes boet vir haar daad’, was in werklikheid die verskoning wat sy gebruik het om weg te kruip vir haarself en die wêreld hier buite.
Noudat haar verlede so ongesiens afgemaak is, voel Zuluika ʼn wonderlike verligting, ‘sy kan haar lewe in perspektief sien, nie net vandag nie, maar terug tot daar waar sy in haar kleintyd kan onthou’, en sy is ook reg daarmee.
Wanneer sy en Bernhardt uit die kantoor stap, wag Mauritz reeds voor die deur. Hy maak grootoog en tik op sy horlosie in ʼn gemaakte teregwysing. Bernhardt lag hard en sê gemaak ernstig, “Wil my voorkom of jy ernstig in aanvraag is Dokter, hoop nie Mauritz het ʼn ongesteldheid nie.”
Mauritz lag dit weg, maar hy weet sy gevoel vir Zuluika moet duidelik wys, en hy weet sy tyd om reg te maak is besig om uit te loop.
Sodra hulle alleen is, kyk Zuluika na haar horlosie, sy weet hulle moet eers na dokter Jean Tredoux se spreekkamers gaan om die afspraak vir Margret na te kom.
“Mauritz ek het ʼn afspraak by die Corvallis Familie Mediese Kliniek in 400 NW Kings Boulevard. Kan ons asseblief ʼn huurmotor neem en daarheen gaan?”
Mauritz voel die vrees in hom, ‘Daar is net mediese kamers daar, is Zuluika siek?’
Hy probeer die vrees in hom onderdruk, “Goed, kom ons kry ʼn huurmotor,” en hy neem haar aan die arm en stuur haar in die rigting van die straat.
Voor die kliniek hou hy haar een oomblik terug, “Is jy siek Zuluika?”
Zuluika weet Mauritz moet wonder oor die besoek, maar sy weet, dit is haar en Margret se geheim en sy kan dit nie met Mauritz bespreek nie.
“Mauritz die besoek is iets baie persoonliks, sal jy dit net laat gaan asseblief?”
Hy voel die vrees in hom, hy weet sy sal dit nie met hom bespreek nie, maar hy weet hy wil dit nie laat gaan indien sy siek is nie, hy wil weet, hy wil daar wees vir haar ongeag wat dit is. Hy laat haar alleen na die ontvangs toonbank stap en gaan sit, hy weet hy moet haar die ruimte gee wat sy nodig het.
Sy gaan sit langs hom, hy kyk haar in die oë, “Jy weet ek is hier vir jou.”
Zuluika druk sy hand, bid dat dit so sal wees indien hy ooit uitvind wat sy gedoen het.
“Zuess, juffrou Zuess,” Kom dit, en Zuluika besef dit is die eerste keer in haar nuwe lewe wat sy juffrou genoem word, en sy mis die vyftien maande se ‘mevrou Bruyns’, met ʼn fisiese pyn.
Sy sien die slanke blonde vrou in die wit jas, instinkmatig weet sy dit is dokter Jean Tredoux, en sy skud haar hand en volg haar.
Jean Tredoux bedank Zuluika vir haar bereidwilligheid om Margret by te staan. Sy is die een wat Hugo se weiering tot ʼn sonar ophaal en veroordeel. Hulle deel hulle bevindinge met mekaar en stem saam oor die veelvuldige fetusse.
Zuluika gee haar mening dat dit drie fetusse is, en sy aanvaar dit as korrek. Hulle bespreek ʼn strategie om Margret te versorg, en kom ooreen om weekliks te praat oor haar toestand.
Wanneer Zuluika uit die spreekkamer stap, staan Mauritz dadelik op, sy sien die angstigheid op sy gesig, en al wat deur haar gedagtes gaan is, ‘Ag Vader, nog iets wat ek oor moet swyg, gaan die geheime ooit verdwyn?’
Zuluika weet sy wil sy kommer wegneem, nie hom wat so baie vir haar beteken onder spanning laat nie, “Ek is nie siek nie Mauritz, glo my asseblief.”
Mauritz knik sy kop, al voel hy die twyfel in hom, hy besluit om die aangeleentheid te los, hy wil die tyd met Zuluika geniet, en hy weet hy moet die kommer vir eers net wegbêre, nie vandag, of die volgende paar dae daarmee bederf nie.
Die res van die dag gaan gesellig verby, hulle stap deur die winkels en doen al die aankope.
Mauritz koop ʼn pragtige serp wat hoofsaaklik blou en swart motiewe het, en sodra hy dit betaal het, haal hy die prysetiket af en sit dit om haar hals, en vou dit versigtig om haar nek.
“Vir jou, sodat ek sal onthou hoe die kleur van jou oë die serpie ophelder, dra hom soms en onthou my asseblief.”
Zuluika voel die hartseer in haar terwyl sy die serpie teen haar lippe druk, ‘Sy gaan hom vreeslik mis, en sy weet nie hoe sy ooit oor die gevoel van verlies sal kom nie’.
Werner is by die gastehuis wanneer hulle daar aankom, Zuluika voel ʼn effense teleurstelling vir een sekonde, maar met ʼn glimlag besluit sy om Werner se teenwoordigheid te geniet.
Hulle drie gaan eet by die restaurant, en dit word ʼn heerlike aand. Wanneer hulle nag sê kom hulle ooreen om die volgende oggend negeuur ontbyt te eet, waarna hulle weer die winkels sal invaar, waarna hulle middagete om eenuur met ‘die vyf’ by die koffie kroeg sal geniet.
Die Saterdagoggend word Zuluika wakker met ʼn opgewondenheid in haar, sy sien uit na die dag en na die konsert, ook om te weet of sy die druk van publieke optrede kan deurstaan.
Sy weet, indien sy die druk kan verwerk, is sy reg om in drie weke terug Suid Afrika toe te gaan, en te gaan aanpak wat sy weet haar die emosionele vryheid moet gee wat sy nodig het.
Wanneer sy, Mauritz en Werner vyf uur by die universiteit aankom, is daar reeds baie mense, en Zuluika besef die universiteit en ook die konsert geniet groot ondersteuning.
Die jongmans kom onmiddellik na hulle toe en saam met hulle, hulle families. Elkeen stel sy familie met trots aan hulle drie voor, en Zuluika onthou die geleenthede wanneer oom Louis en oom Nate Pretoria toe gekom het om haar opvoerings en haar gradeplegtigheid by te woon. Sy herroep haar trots op hulle, die mense wat haar heelgemaak het.
Haar meelewing met die jong mense, sowel as die voorreg om hulle mense te ontmoet, straal uit haar uit, en die ouers druk haar hand in warme waardering.
Dit is senator Baker wat haar spontaan in sy arms neem en haar teen hom druk, “Dankie vir die vertroue wat jy ons seun gee, hy sien so uit na vanaand, maar veral om ʼn volwaardige medikus volgende jaar te wees. Jou positiewe insette in my seun se lewe en werk, en die voorbeeld wat jy stel, is wonderlike boumateriaal vir ons kinders.”
Zuluika is vir ʼn oomblik totaal verward, ‘Is sy in staat om soveel by te dra in mense se lewens?’
Sy kyk oor sy skouer, dit is Werner se gesig, en die instemmende knik van sy kop wat sy sien, en sy voel skielik bewoë.
Verskeie van die hospitaalpersoneel voeg hulle by die groep, en wanneer Zuluika Rhoda se stem hoor, draai sy om, “Dankie vir julle ondersteuning, dit is fantasties om julle hier te sien.”
“Ons kan nooit die konsert misloop nie, julle is ‘ons’ groep, en ons weet julle gaan uitstekend vaar.”
Hulle bestudeer die program, sien daar is agt groepe wat deelneem. ‘Passion at Work’ is in beide nommers die vyfde groep wat sal optree, en Werner, Mauritz en Darrel Gauche verseker hulle dit is ʼn perfekte plasing. Darrel verduidelik laggend, “Sodat die gehoor kan sien hoeveel beter julle as die eerste vier groepe is, en dan die laaste groepe teen julle meet,” en Zuluika weet nie of dit sin maak nie, maar sy aanvaar dit so.
‘Die vyf’ se senuweeagtigheid is duidelik wanneer hulle reeds aangetrek en gereed agter die gordyne staan terwyl die vierde span op die verhoog verskyn vir hulle dansnommer.
Zuluika kyk na hulle en sy is trots, besef die hospitaaluniforms met die teaterstewels pas hulle perfek. Sy glimlag wanneer sy ‘die vyf’ se gesigte sien, swart vinger breë grimeerstrepe oor die wange en voorkoppe, en sy weet, hulle is so verskriklik passievol, die passie wat hulle saam sal neem in hulle loopbane.
Dit is Jeremy wat glimlaggend met ʼn wysvinger vol swart grimering voor haar kom staan, sy lag, skud haar kop en laat hom die vier strepe op haar wange trek. Zuluika weet, die saamwees, eenwees met die jong mans, het die lank gelede bravade en spontaniteit wat sy as student gehad het teruggebring, en sy dank haar Heer en hulle daarvoor.
Zuluika roep hulle bymekaar en sê die woorde wat sy weet ook sy nodig het, “Onthou julle ken elke beweging van die dans, elke klap op die stewels, elke blaas van die fluitjies, nou moet ons net glo in onsself. Gaan uit op die verhoog, gee die gehoor die voorspel wat julle vervolmaak het, daardie groet, laat die Djembe, die fluitjies, die handeklap en julle vertroue in julself julle dra.”
‘Die vyf’ stamp hulle regter voete ritmies op die verhoog, en Zuluika begin die ritueel se ritme op die Djembe speel. Sy hoor hoe daar onmiddellik ʼn stilte oor die saal daal, sy voel die oordonderende trots in haar wanneer ‘Passion at Work’, openlik gemaklik met hul eie variasie passies die verhoog neem en met oorgawe en passie die totale dansnommer foutloos uitvoer.
Wanneer die laaste klank van die klokkies stil word, bars ʼn oorverdowende applous uit. Die wete is in Zuluika ‘Al sou hulle nie vanaand wen nie, het sy en die jong mans op ʼn persoonlike vlak gegroei. Dit het die liefde wat sy en Rudolph vir musiek gedeel het, teruggebring, en daardie liefde by die jong mense gekweek’, sy weet, sy is besig om weer heel te word.
Hulle omhels mekaar, en D’Artnel sê met sekerheid in sy stem, “Ek is reg vir die solo vanaand, solank julle by my is, sien ek kans vir enigiets.”
Met die pouse, voor die sangnommers begin, voeg Zuluika en die jong mans, hulle by die gesinne, en sy is verbaas oor al die mense van hulle gemeenskap wat wel gekom het om hulle te ondersteun.
Mauritz trek haar in die groep in waar hulle gemeenskap staan. Zuluika besef hulle het die groep as hul eie aangeneem, en wanneer sy in die rigting van die senator kyk, sien sy die woord wat sy lippe vorm, ‘Dankie’, en sy knik haar aanvaarding daarvan.
‘Die vyf’ se gemoedstemming terwyl hulle agter die gordyne wag vir hul sangbeurt, is ʼn totale teenstelling van die minute voor die dansnommer. Hulle is ontspanne en Zuluika kyk met trots na hulle, uitgevat in swart aandpakke, ʼn wit hemp, en elk ʼn wit roos wat deur die baadjie se lapel knoopsgat gesteek is.
Wanneer Jeremy weer in haar rigting stap, weet sy, dit is haar roos wat hy op haar bloese wil vassteek, en kan sy amper nie glo hoe die vyf jong mense in die afgelope maand gegroei het in hul volwassenheid nie.
Sodra hulle groep aangekondig word, gaan staan ‘die vyf’ in ʼn ry agtermekaar, en wink hulle haar om voor in die ry in te val. Wanneer sy die hand op haar regter skouer voel, kyk sy om, en sien sy hulle staan ʼn armlengte agtermekaar met hul regterhand op die persoon voor hom se skouer.
“Ons optrede vanaand is vir jou Dokter, om dankie te sê vir jou deel wees van ons, jou bereidwilligheid om saam met ons vanaand hier te wees, ons onder jou vlerk te neem.”
Zuluika voel vir een oomblik oorweldig, herroep Thobile se woorde, ‘Jy Zuluika het meer goedheid in jou, veral nou na die tien jaar om die wêreld te bied in jou lewe, as die totale som van goedheid wat jy reeds in jou verlede gedeel het’, en nou glo sy die woorde. Met die ondersteunende drukkie op haar skouer, gee sy outomaties die eerste treë en volg hulle haar die verhoog op.
Sy kyk na hulle, glimlag wanneer hulle in gelid buig, hul regterhande oplig en ʼn soen in die rigting van die gehoor blaas.
Die pragtige stemme vul die lug, en die warmte daarvan vul Zuluika.
Soos geoefen, sing die groep die lied twee keer deur, voor D’Artnel, waar hy twee treë voor die ander lede van die groep staan, se pragtige stem suiwer en sterk die saal vul. Met die finale ‘I’m in love with you’, van D’Artnel se solo sang, tree hy terug, trek elkeen hul wit roos uit die lapel se knoopsgat, en met ʼn geoefende beweging gooi hulle dit gelyk die gehoor in.
Die applous is oorverdowend, Zuluika staan op en voeg haar by die jong mans vir die finale buiging, sy sien die gehoor hulle staande toejuig, en die trots op die jong mans wil haar versmoor, ‘Dankie Here vir U genade’, gaan dit deur haar gedagte.
Hulle neem hulle sitplekke in tussen die ander deelnemers aan die kant van die saal, en wanneer Zuluika haar kop effens draai na waar sy weet Mauritz sit, maak hulle oogkontak, hy lig sy hand tot by sy lippe, draai sy hand na haar asof hy ʼn kus na haar wuif.
Zuluika voel die vreugde in haar, maar ook die ontsettende pyn, sy weet wat sy voel, sy weet dit wat sy wens tussen hulle kon wees, is onmoontlik. Sy gaan binne die volgende paar weke terug na waar die geheime wag om oopgemaak te word, en hy sal hier wees om met sy lewe aan te gaan.
Die seremoniemeester bestyg die verhoog, vra die gehoor om ʼn paar minute geduldig te wag vir die uitslae van die beoordelaars. Hy herhaal die geskiedenis van die ‘Finale jaar studente konsert’, en verduidelik weer die beoordelingskriteriums, sowel as die aanwending van die prysgeld.
ʼn Stilte daal oor die gehoor wanneer professor Crafford op die verhoog verskyn. Hy neem die mikrofoon, kyk gemaak ernstig van die gehoor na die papier in sy hand, glimlag en uiteindelik is dit die finale minute waarvoor veertig finale jaar mediese studente ʼn maand lank geoefen het.
Zuluika sien die spanning op die gesigte, en sy stuur ʼn klein gebedjie na bo.
Die oomblik wanneer ‘Passion at Work’ se naam tussen die drie finaliste genoem word en na die verhoog geroep word, weet Zuluika, hulle gaan wen.
Professor Crafford kondig nommer drie en nommer twee se name aan, en pandemonium bars los wanneer almal besef ‘Passion at Work’ het gewen.
‘Die vyf’ se reaksie by die hoor van hulle naam is nog ʼn oomblik wat sy weet, sy sal onthou.
Sodra die applous bedaar kom professor Crafford se stem en Zuluika is verlig omdat hulle al vyf liedere geoefen het, “’Passion at Work sal nou nog een lied as ʼn ‘encore’ moet sing, en daarna, volgens ʼn belofte gisteroggend, sal dokter Zuess en dominee Mauritz Melville, ter afsluiting van die konsert ʼn nommer saam opvoer. So Mauritz ek dink jy moet maar solank jou pad hierheen maak,” kom dit laggend van professor Crafford.
Die applous wat Mauritz kry wanneer hy deur die gehoor stap, laat Zuluika besef, hy is nie net baie bekend by die universiteit nie, maar hy is geliefd hier.
‘Die vyf’ se keuse vir die ‘encore’ lied is spontaan, ‘Climb Ev’ry Mountain’, en wanneer die laaste, ‘Climb every mountain, Ford every stream, Follow every rainbow, Till you find your dream’, begin, sing die gehoor saam, en herhaal hulle die lied een keer saam met die gehoor.
Mauritz gee haar die viooltas, en die emosie op sy gesig wil haar in trane laat uitbars. Hy gaan sit agter die klavier, wag vir haar om die viool uit te haal, en vra sag, “Wat sal dit wees Dokter?”
Sy kyk na hom, weet sy wil hom vir ewig onthou soos hy hier na haar kyk, “Every Breath you take,” en Mauritz weet hierdie is die woorde waarmee hy haar altyd sal vereenselwig.
Wanneer hulle by ‘Since you’ve gone I been lost without a trace’ kom, sing ‘die vyf’, en die gehoor saam, Zuluika weet hierdie is nog een van die wonderlike herinneringe wat sy saam met haar sal neem.
Die prys uitdeling, die bekendmaking van die gekose liefdadigheid waarheen die wengeld sal gaan, gaan asof in ʼn droom by Zuluika verby. Al waarvan sy bewus is, is die lang krulkop man aan haar sy, en sy wil net elke minuut alles van hom inneem, vir die jare wat kom.
Almal wat hulle kom ondersteun het, besluit om ʼn laaste koppie koffie by die koffiekroeg saam te gaan drink, en die feesvier en gesels met nuwe vriende en familie word vir Zuluika ʼn kosbare ondervinding.
Hulle besluit om almal die volgende oggend weer saam by die koffiekroegie ontbyt te geniet, waarna laaste inkopies gedoen sal word, en almal om eenuur sal ontmoet om terug te vertrek.
Die sit langs Mauritz, die voel van sy warmte teen haar, en die emosie wat dit in haar bring, dwing haar oë toe, en die verwyt oor haar daad wat die kans op geluk vernietig het, versmoor haar.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.