
Ek wil lewe (goud)
Vat my enige plek saam met jou
enige plek weg van hier
enige plek waar vergeet kan verlig
‘n plek met purper plesierighede
soos in die mik van jou arms
of oor die heuwels van jou heupe
waar jou hande veilig oor my kan veld
‘n plek waar buite ‘n binneding raak
waar net ek en jy kan verdwaal
sonder dat iemand ons sal soek
‘n plek waar ek rondborstig
oor jou kan rinkink
jy my labirinties oor die intertekstuele
ritmes van jou lyf kan abba
met glibberige hande my kan gelykmaak
vat my net weg van hier
want ek wil verpoeier,
verstof of verdwyn
sonder om dood te gaan
© Sept 2020 Caren Kearley
Kopiereg voorbehou
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die September 2020 – Liefdes-projek