Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 11

Hoofstuk 11 – Die siklus is voltooi

So breek Zuluika se laaste twee weke aan en huil sy wanneer dit nag word, nog een dag nader aan die weggaan, en vra sy haarself, ‘kan sy nog ʼn verlies hanteer’, sy weet, al was daar nie ʼn Maxi in Mauritz se lewe nie, haar plek is nie langs hom nie, daarvoor het haar onbesonne daad gesorg.
Mauritz is soos ʼn vasgekeerde dier in sy hartseer, in hom weet hy, hy kan nie vir ewig in ʼn leuen saam met Maxi leef nie, daarvoor het hy haar as ʼn vriendin, ʼn suster, te lief, en hy kan nooit vir haar net ʼn halwe maat wees nie. Mauritz weet voordat Zuluika gaan moet hy met Maxi gaan praat, moet hy haar die waarheid gaan vertel, haar smeek om hom te vergewe, maar sonder Zuluika kan hy nie, die Here weet, hy sal nooit weer heel kan wees indien hy nie saam met Zuluika is nie.
Zuluika begin stelselmatig die pasiënte oorgee aan Neville wat ook die studente se toesig sal oorneem indien ou dokter nie betyds terug is nie.
Tussen haar en Neville is daar ʼn band van respek en bewondering, en saam met die vyf jongmense is hulle dae vol in die deel van hulle liefde vir hulle werk, hulle respek en omgee vir die pasiënte, maar veral vol van die absolute genot van die meelewing met mekaar.
Die Saterdag voor haar laaste week, vra Mauritz of sy saam met hom in die berg sal gaan stap, ‘Ek wil jou ʼn spesiale plek gaan wys’, en sy wil met alles wat in haar hart is. Die stap in die bos gee Mauritz die geleentheid om haar hand in sy groot hand te hou, haar warmte teen hom te voel, en die gevoel in hom wil hom versmoor.
Die oomblik wanneer hulle uit die digtheid van die bos stap, is die magiese skoonheid van die berge, wat tot aan die hemel strek, voor hulle, en Zuluika staan stil voor die Godswonder.
Mauritz draai om na haar, en terwyl hy haar hand vashou en in haar oë kyk, resiteer hy in sy pragtige stem Psalm 121 vir haar,
Ek slaan my oë op na die berge, Waar sal my hulp vandaan kom?
My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.
Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie;
Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.
Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie en Hy slaap nie.
Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare.
Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie.
Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm.
Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.

Zuluika staan sprakeloos voor die prag van Mauritz se siel, en al wat sy kan dink is, ‘Here hou hom gelukkig en veilig vir ewig’.
Mauritz sien die verlorenheid in Zuluika se oë, hy trek haar teen sy hart vas terwyl hy haar sag op die lippe soen.
Die skok is in albei, maar hulle staan stil teen mekaar, nie by magte om uit die oomblik te stap nie.
Die aftog teen die berg is gevul met die tydlose stilte wat liefde bring. Albei weet hulle tyd is verstreke, en albei is in totale onmag om iets te sê, of te doen, om die pyn te verminder.
Die Sondagoggend sodra Zuluika die gewyde sang hoor stil word in Mauritz se kerk teen die hang, stap sy oor die grasveld na die hospitaal. Rhoda het haar genooi om middagete saam met haar, en haar gesin, by die hospitaal restaurant te kom geniet.
Sy hoor die stemme en kyk op na die kerk, die gemeente stroom deur die deure en dit is duidelik dat almal na die restaurant op pad is. Zuluika voel die emosie in haar wat sy voel sodra sy weet sy gaan Mauritz sien, en haar hart word rustig wanneer sy hom oor die gras nader sien stap. Sy wag vir hom en sy mense, en hulle omring haar terwyl hulle geselsend aanstap hospitaal toe.
Die oomblik wanneer sy deur die eetsaal se deur stap, gaan staan Zuluika stil in verwondering. Die eetsaal is omskep in ʼn sprokieswêreld, en daar sit talle mense reeds by die tafels wat in feestelike kleure getooi is.
Sodra sy deur die gedekte tafels die vertrek instap, staan die sittendes op en begin hulle saam met die gemeentelede spontaan hande klap.
Zuluika besef dit is ʼn afskeidsfees, sy voel die trane in haar opstoot en stadig oor haar wange loop. Sonder enige ophef gee Mauritz haar sy sakdoek, en met sy gemaakte grootoog trek, wuif hy haar om voor hom te stap.
Met die deurstap na die tafel waar Rhoda vir haar wuif, sien sy ‘die vyf’ se ouers bymekaar aan een groot tafel sit, en die vreugde in haar is ongelooflik soet.
Die ete, en die dag, word ʼn wonderlike ervaring vir Zuluika, ʼn dag wat haar nie net versterk vir die teruggaan nie, maar haar laat besef, daar is soveel lewe vir haar oor in die wêreld, en sy dank haar God daarvoor.
Sy word op die hande gedra, kry geskenke van ‘die vyf’, en hulle ouers, en ontvang ʼn vergulde stetoskoop van Rhoda, ‘Namens die hospitaalpersoneel’. Die boodskap bring opnuut die trane terug in Zuluika se oë, ‘Sal jy asseblief elke dag na jou eie hart luister en seker maak jou wonderlike hartklop nog reg vir ons wat vir jou hier sal wag’. Zuluika voel die trane teen haar wange afloop, totale onmag om dit te keer, maar sy is gelukkig.
Rhoda gee haar ʼn pragtige gekleurde bloese wat blou en swart motiewe het, “Vir die wonderlike oogkleur van jou, tot nou, en solank ek leef, weet ek, sal ek nooit weer so ʼn besondere iets teëkom nie. Dra dit asseblief wanneer jy iets gaan doen wat jou soveel vreugde sal gee, as wat die gee hiervan vir my gee.”
Zuluika slaan haar arms spontaan om Rhoda, “Rhoda jy is die vriendin vir my wat ek so nodig het. Baie dankie hiervoor, ek sal die bloese troetel en bêre vir een wonderlike dag.”
Die laaste gebaar van die wonderlike mense laat Zuluika weereens besef, ‘Daar is so baie lewe vir my oor Here, as U my net sal vergewe vir my onbesonne daad’.

Die Dinsdag van haar laaste week, is ʼn dag soos die dag toe sy gekom het. Ongewone hoë reënval dwarsdeur die vorige dag en nag, het alles in ʼn pappery verander, en vir Mauritz is dit asof die omstandighede, nie net die einde van haar verblyf wil aankondig nie, maar dit wil afsluit in dieselfde triomf, soos haar instap dag in hul lewens was.
Uit die geweldige stormreën kom die twee mans die hospitaal binne, ‘Een van die werktuie het gegly en een van Hugo se gevolg, Desmond Brian, is vasgeval met sy been onder die lem in ʼn poel water wat vanaf die bergstroom gevoed word, en hulle kan hom nie uitkry nie, Dokter moet kom help, hy gaan sterf, of van die been, of van die koue, of hy gaan verdrink’.
Zuluika kyk na Rhoda en Mauritz, “Kry handdoeke, komberse, droë klere en soveel as moontlik warm koffie in die warmflesse, sowel as warmwatersakke, want die persone in die water het net so ʼn goeie kans om van die koue om te kom, as Desmond. Laat die studente weet hulle moet gereed maak om saam te gaan, ons sal sterk manne nodig hê om die pasiënte die berg af te bring tot by die voertuie.”
Mauritz, Rhoda, en die verpleegpersoneel hardloop skouer aan skouer deur na die kombuis en stoorkamers om alles gereed te kry.
Zuluika stap teater toe, haal die instrumente wat sy weet sy nodig sal kry, uit die kas, en sit dit in ʼn sak, ‘maar sy bid dat dit nie nodig sal wees nie’, sy stap deur na die kombuis, neem ʼn koelboks en vul dit met ys uit die ysmasjien.
Zuluika gee haar bevele vir hulle wat agterbly, “Kry die teater in gereedheid, laat al die teaterpersoneel sowel as Werner en Peter kom sodat ook hulle gereed sal wees sodra ons terug is. Ons sal onmiddellik opereer, ongeag die tyd wat ons terugkom. Kry ook beddens gereed vir die ander persone wat sal inkom saam met ons, ingeval daar meer beserings is, of selfs gevalle van hipertermie.”
Rhoda hou ʼn waterdigte oorpak na haar uit, en help haar om dit aan te trek, “Hiersonder sal jy dit nie oorleef nie Zuluika,” en met ʼn knik van die oog en ʼn glimlag, “en dit kan ons nie bekostig nie.”
Rhoda help haar om haar warm baadjie bo-oor die oorpak aan te trek, en soos ʼn moeder met haar kind, trek sy die ritssluiter op tot teen Zuluika se ken, en gee Zuluika ʼn ligte drukkie op die skouer, “Daar is jy nou toe gewoel, wees versigtig asseblief.”
Zuluika voel die toegeneentheid, sonder dat sy dit kan keer, wonder sy of haar eie moeder ooit so iets vir haar sou doen, en sy voel weer die hartseer na ʼn moeder wat sy nooit geken het nie.
Sy ruk haar reg, sê met ʼn stem wat effens kraak, “Dankie hiervoor,” terwyl hulle uitstap skouer aan skouer na die ander persone wat wag.
Zuluika sien almal, Mauritz ingesluit, het reeds waterdigte pakke aan, en sy voel ʼn trots en toegeneentheid in haar vir die mense en hulle ‘saamstaan’.
Elkeen neem van die toerusting en drafstap na die voertuie wat staan en luier.
Mauritz tel haar die voertuig in, skuif styf teen haar vas, sit sy arm om haar skouers en trek haar teen hom vas, hy gee nie meer om nie, almal kan nou maar weet, hy het Zuluika lief, hy kan nie meer sonder haar heel wees nie, en hy bid woordeloos, ‘Here wees met ons, wees met haar hier aan my sy, wat soveel vandag op haar gaan neem’.
Hy weet verseker, die worsteling wat hy in hom dra moet hy ʼn einde aan maak, na vannag verby is, sal hy Maxi gaan sien, sal hy bieg, want net die mens wat nou hier by hom is, is al wat hy wil hê.

Sy voel sy hitte teen haar, en in haar is daar vrede, dit is al wat sy wil hê, al wat sy saam met haar terug sal neem.
Die rit neem meer as ʼn uur tot by die verste punt waar die voertuie veilig kan beweeg. Sy verduidelik vir die personeel wat by die voertuie agterbly hoe sy die voertuie ingerig wil hê vir die vervoer van Desmond en die ander mans terug na die hospitaal.
Die groep beur in die vallende reën teen die berg op, met hom wat haar hand nie los nie, hy wat haar elke treë rig om seker te maak sy is veilig, en sy wat aan die sterk hand vashou.
Die toneel waarop hulle instap, laat die hele groep in ontsteltenis versteen, die situasie is hopeloos, drie mans staan halflyf geklee in waterdigte pakke in die vriesende water, en hou Desmond se kop bo water. Die res van die mans, ook geklee in waterdigte oorpakke, en toegevou in termiese komberse, staan aan die kant van die stroom en toekyk, die wanhoop so grys soos die dood op hulle gesigte.
Zuluika som die toneel op, weet die twee spanne maak beurte om in die water te help om mekaar die geleentheid te gee om na kort periodes weer hul liggaamstemperatuur tot ʼn mate te herstel.
Zuluika dwing haar groep om ʼn paar sekondes hul asemhaling te herstel, en om hulle almal ʼn geleentheid te gee om die situasie op te som. Sy sien die starende mans se oorgawe, sy weet vir hulle is die man in die water reeds dood, en sy besef hy is moontlik reeds dood, want hy is reeds ure in die koue water met die skok en bloedverlies wat die ongeluk gebring het.
Sy sien ʼn gedeelte van die implement se lem wat bo die water uitsteek, en sy weet, nie die been, of die man sal onder daardie lem uitkom nie. Daar sal iets drasties gedoen moet word om hom onder die implement uit te kry, ongeag of die man in die water nog leef. Sy weet, indien hy wel nog leef, en hy enige kans op lewe gaan hê, ‘Sy sal die iets drasties moet doen’, en sy is op hierdie oomblik weer daar waar sy voor die laaste tien jaar was, seker van haarself, reg vir die situasie, en sy bid, ‘Here laat hy asseblief leef, laat my sy lewe teruggee vir die lewens wat ek gevat het’.
Sy voel die hand van liefde op haar skouer, voel sy warmte haar aanraak, voel sy krag haar versterk. Sy maak die sak met die instrumente oop, haal die beensaag uit wat sy saamgebring het, pak verskeie pakke verbande op die draagbaar, sit die toerniket wat sy sal gebruik om die been af te bind bo-op die verbande, en gee haar tas en die sak vir Mauritz.
Hy sien die skok op die gesigte van die mans langs hom, die wete is in hulle, sy het van die begin af geweet wat die situasie mag wees, sy is gereed om te doen wat die situasie vra, en almal is verlig die besluit is nie hulle besluit nie, maar die besluit van iemand wat baie sterker as hulle almal saam is.
“Hou die draagbaar gereed, sodra ons hom uit het, moet ons dadelik die been afbind, hom warm kry, vasbind op die draagbaar, en in rekord tyd by die hospitaal kom, indien ons hoegenaamd sy been, of hom wil probeer red.”
Zuluika sien die verdwaasdheid op die gesigte, en terwyl sy Mauritz se hand vasvat, “Laat al die mense regstaan, ons gaan soos een span van hier af beweeg, ek het elke man nodig om te help om Desmond en ons almal veilig van die berg af te kry.”
Mauritz kan net sy kop knik, net kyk, en luister na haar wat ʼn duisend keer meer is as wat die fyn postuurtjie wys, en sy hart wil ontplof van liefde. Hy besef, hulle het nog nie die Zuluika Zuess gesien wat hulle vandag gaan sien nie, die vrou vir wie geen situasie te groot is nie, die vrou wat geen steen onaangeraak sal laat as dit by ʼn lewe kom nie, en hy trek haar een oomblik teen hom vas, “Laat my saam met jou ingaan.”
“Nee, ek het iemand nodig wat kalm is, dinge hier reg sal hou vir hom in die water, jy moet dinge hier reg hou vir ons.” Die vertroue in haar oë raak diep, hy weet, haar wil hy nooit teleurstel nie, en dit pyn in hom wanneer hy besef hy het dit reeds gedoen deur haar nie vooraf van Maxi te vertel nie.
Hy buk en soen haar sag op die voorkop, “Asseblief kom veilig uit die water, kom veilig uit na my toe.” Daar volg een oomblik stilte, en dit kom sag teen haar voorkop, “Ek het jou lief Zuluika Zuess, so lief dit maak seer,” en Zuluika voel die skok, die vreugde en die weemoed in haar, ‘Here ek het hom lief’, en weer die verwyt, ‘Ag Here wat het ek daar lank gelede aangevang?’
Zuluika vat vir een oomblik aan sy pragtige gesig, trek haar warm jas uit, gee dit vir D’Artnel wat langs Mauritz staan, en sonder om terug te kyk, of te skroom, met al die omstanders wat versteend staan, stap sy die yskoue water binne.
Hulle sien haar buk oor Desmond, sien hoe sy vinnig en akkuraat na die pols in sy nek voel, ‘en hulle bid woordeloos’, die knik van haar kop is positief, en hulle weet, ‘hy leef nog’.
Hulle sien haar enkele woorde met die drie mans wissel, en sonder waarskuwing sak sy af en verdwyn onder die yskoue water. Die ontsteltenis is in die snak na asems, Mauritz voel die vrees in hom, oorweeg om in die water te spring, maar hy bly staan, dit is nie wat sy wil hê nie, en hy bid, ‘Here asseblief, hou haar veilig’.
Die koue dwing haar oë een oomblik toe, maar die vasgedrukte been in die waterpak se broekspyp dwing hulle oop, en sy sien die been so duidelik asof dit op haar operasietafel lê.
Sy voel oor die been van die heup af tot daar waar dit onder die lem vasgevang is, en sy weet presies wat sy moet doen, presies waar sy die been moet afsaag. In haar is die wete, ‘Desmond is lankal reeds in ʼn koma, en daar is geen nodigheid vir enige verdowing nie, daarvoor is hy reeds te ver weg van die wêreld af’.
Sy weet die yskoue water het die bloeding in ʼn groot mate onder beheer gehou, maar sy weet, Desmond kan van ontbloting sterf, daarom moet sy wat sy nou gaan doen, met chirurgiese presisie doen.
Sy staan op uit die water, skep asem, en praat met die mans voor sy afsak en onder die water verdwyn.
Daar is geen beweging in die yskoue lyf wanneer Zuluika dit wat oor is van die papgedrukte been met kragtige hale met die vlymskerp saag onder die knie afsaag nie.
Mauritz en die mans wat langs hom staan weet die skok op die gesigte van die drie mans wat Desmond vashou, is ook op hulle gesigte te sien, by die wete dat die afsaag van die been die enigste kans is wat Desmond vandag het op lewe. Hy roep die studente, en saam begin hulle die handdoeke, droë klere, komberse en koffie, sowel as die warm sakke regkry, om hulle wat op die wal wag, sowel as hulle wat in die water staan, uit die nat klere te kry en warm te kry.

Die drie mans in die water staan versteend, hulle kan nie glo wat die klein mensie hulle so pas meegedeel het nie, net so, geen ophaal, geen bohaai, net, ‘Staan stewig want ek gaan sy been afsaag’.
Met die laaste besliste trek van die saag, is die bobeen los van die papgedrukte onderbeen, en die drie mans steier agteroor wanneer Desmond se liggaam loskom en meegee. Met die opstaan gryp Zuluika die twee mans aan haar sye vas, en help sy hulle, hulle ewewig herwin.
Sy stoot hulle met Desmond se slap lyf tussen hulle na die kant van die stroom, terwyl sy met die mense op die oewer praat, “Ons moet hom stabiliseer en ʼn toerniket aansit om die bloeding te stop.”
Die mans neem Desmond onmiddellik by die drie mans wat stram van die koue uit die poel klim. Met die neersit, stroop hulle die nat klere af, Zuluika plaas die toerniket met presisie om die afgesaagde been, en hulle vou hom toe in die termiese komberse.
Die verpleegstaf plaas die warmwatersakke op spesifieke areas teen die yskoue beweginglose lyf, en Zuluika gee die teken vir die span om die gespes vas te trek om Desmond.
Zuluika koppel die aarvoeding, tree terug, en gee die verpleegpersoneel geleentheid om oor te neem. Sy weet, Rhoda Ross se span weet presies wat hulle moet doen, en sy kan Desmond in hulle hande laat.
Mauritz en die mans wat op die oewer gewag het, help die mans wat uit die water gekom het in droë klere in, sit komberse om hulle, en gee hulle elk ʼn beker warm koffie. Hy draai na Zuluika, trek haar teen hom vas, terwyl hy haar nat waterdigte pak van haar wil afstroop, maar sy keer hom, “Gee my ʼn bietjie koffie, ek moet terug die water in, ek moet die ander deel van Desmond se been gaan haal.”
Die weiering is in hom, ‘Here sy kan tog nie weer die gevaar ingaan nie?’ Die smeking vir hom om te verstaan, is in die onmaats oë, hy weet, dit is wat sy gaan doen, en hoe gouer hy haar laat gaan, hoe gouer gaan sy veilig wees.
Hy gee haar ʼn beker koffie, voel ʼn ongelooflike begeerte om haar teen hom vas te hou wanneer sy daardie pragtige oë vir ʼn sekonde toemaak terwyl sy die welkome warmte van die koffie in haar voel. Sy kyk met daardie skalkse glimlag na hom, terwyl sy die bevel gee, “Begin stap, wees versigtig, ons sal julle inhaal, maar ek moet eers terug die water in.”
Hulle weet wat die gevaar is, maar hulle wil doen wat sy vra, nou en enige tyd, alle verweer wat nog in Hugo se gevolg teen haar was, is weg, net bewondering is oor. Hugo Grant en sy hoogmoedige vete is nie meer van belang nie.
Zuluika stap die water in met die saag, sak onder die water in waar die oorblywende gedeelte van Desmond se been duidelik sigbaar is. Sy saag so na as moontlik teen die lem die been met ʼn paar hale af van die stukkie wat onder die lem sal bly.
Dit kom met ʼn bibberende stem, “Mauritz gee my die koelboks asseblief sodat ek die ledemaat kan versorg.” Hy help haar die been in die ys plaas, en sy vat sy hand en sê sag, “Dankie dat jy hier is, net dankie vir alles.”
Hy trek haar teen hom vas, hou haar teen sy hart en hy huil skaamteloos in haar nat swart kuif, “Nee, dankie vir jou, Here ʼn duisend dankies vir jou.”
Hy help haar in ʼn droë waterdigte pak in, vryf haar hande en gesig met sy hande tot hy die warmte kan voel, en hou haar teen hom vas totdat hy voel hoe sy liggaam en haar liggaam teen mekaar tot rus kom. Albei weet, die persoon wat nou teen hulle is, is die kosbare persoon wat die res van hulle lewens die plek in hulle harte sal behou, maar die waarhede wat hulle op die oomblik verhoed om te sê wat in albei harte is, is tussen hulle, ‘Hy behoort aan ʼn ander, en sy het gemoor’, en dit bring die nugterheid wat sy nou nodig het.
Met haar hand in sy groot hand, begin hulle versigtig teen die berg af stap, Zuluika weet, sy moet veilig bly, sy is die persoon wat daardie jong man se lewe moet probeer red.
Dit is ʼn moordende tog en Mauritz voel die klein liggaampie teen hom wanneer sy teen hom vasgly, hy voel die bewing daarin, en hy probeer haar vasdruk sodat die bewing uit haar kan gaan, maar hy weet die koue is tot in haar bene en hy vrees vir haar gesondheid.
Die inklim van almal in die vragmotors, sy langs Desmond met die hospitaalpersoneel by haar, en hy en die ander persone in die ander voertuie met die bosbouers wat bewend van skok en koue probeer om mekaar te ondersteun, en Mauritz voel die gemis aan die mensie se nabyheid in hom.
Die rit terug na die hospitaal is moordend op die gladde pad in die donker, Zuluika en die verpleegpersoneel probeer aanhoudend Desmond se liggaam verhit en neem ononderbroke sy lewenstekens, vir almal is dit nou ʼn lewenstaak om hom aan die lewe te hou.
Die vragmotor bestuurders gebruik al hulle vernuf om die vragmotors vinnig en veilig teen die nat bergpad af te kry, en ʼn uur later sien hulle die dorp se ligte, voel hulle die verligting, ‘Hulle het dit gemaak, en almal leef nog’.
Daar is orde wanneer die vragmotors stilhou. Rhoda het haar span in twee spanne verdeel, en elkeen weet presies wat om te doen sodra die mans en Desmond uit die vragmotors op die grond is. Hulle is gereed, en al die persone word na die ongevalle saal geneem.
Zuluika gaan deur die volle ondersoek prosedure op Desmond, terwyl die verpleegstaf die bosbouers ondersoek. Zuluika kyk na die span wat saam met haar blootgestel was aan die erge koue, “Kry julle self so gou as moontlik droog en warm, en eet vinnig iets, voor julle terugkom.”
Sy neem ʼn voorskrifboek by Rhoda, skryf die medikasie wat sy toegedien wil hê vir die bosbouers wat hulp verleen het in die water neer, en gee dit aan die saalsuster.
Sy stap saam met Rhoda na die intensiewe afdeling, en vind Peter, Neville, Werner en die studente by Desmond. Hulle werk deur Desmond se beserings, en sy vra hulle om gereed te maak vir die operasie. Die instemmende kopknikke versterk haar bewondering vir hierdie span, “Peter ek wil ʼn vol stel X-strale van Desmond se hele lyf hê. Ons moet baie seker maak of daar enige ander beserings is, veral ook die rug en nek, en begin met die voorbereiding vir ʼn baie lang operasie, ek gaan sy been weer heg.”
Zuluika wag in stilte, sien die uitdrukking op hulle gesigte, en die gevoel waarvoor sy deur die tien jaar, moontlik deur haar hele lewe altyd voor gewag het, is skielik in haar, ‘Hulle vertrou haar, hulle is trots op haar, soos oom Louis, oom Nate, Laurie en Rudolph altyd was, en haar vrees vir faal is weg’, en haar stem dra die nuwe gevoel in haar uit, “Rhoda kry jou teaterspanne reg asseblief. Julle vyf, skrop en wees gereed om te help in die teater indien dit nodig is, sien julle almal in dertig minute in die teater.”
Rhoda gee haar opdragte, en neem Zuluika aan die arm, “Jy gaan nou eers in warm droë klere kom en iets eet en drink voor jy omval.”
Sy neem haar beslis aan die hand en dwing Zuluika na die enkelkwartiere. Sy stroop Zuluika se klere af en druk haar onder die warm water in die stort in, daar is geen skaamte nie, net aanvaarding, en Zuluika laat dit verbygaan, laat Rhoda haar aantrek, en haar ledemate warm vryf om die bewing uit haar liggaam te kry.
Rhoda gee haar ʼn beker sop en ʼn toebroodjie om te eet, terwyl sy Zuluika se bene verder vryf om die ergste koue te verdryf. Alles vat minder as twintig minute en hulle draf saam deur die gange na die teater.
Hy is daar, warm aangetrek, klam hare van die stort, en die trek op sy gesig wat sê, ‘Ek het jou lief’, en die lewe kom terug in Zuluika.
“Kan ek bystaan asseblief?” vra Mauritz, en sy sê ja, sy weet sy het hom en sy krag vannag nodig om haar deur die volgende ure te kry.
“Kan ek saam met die video opname ook my eie kamera aansit en die operasie opneem,” hy weet, hy wil hierdie briljante pragtige mens vir ewig op film naby hom hê, en sy sê weer ja, enige iets, solank hy daar is waar sy hom kan sien, sy teenwoordigheid kan voel.
“Ek soek ʼn tweede span teaterpersoneel reg om na drie ure te ruil sodat julle kan rus tussen in,” en almal weet Zuluika Zuess gaan hulle vannag verstom.
Hulle gaan stilswyend deur die vooroperasie roetine, staan een oomblik stil langs die operasietafel, buk vooroor en begin met ʼn tien uur operasie wat ʼn man se been van vergruis tot heel terugsit, wat ʼn man ʼn kans gee om miskien eendag weer normaal op sy eie bene te loop.
Mauritz, en die teaterpersoneel sien ʼn genie aan die werk, sien die vermoeienis op die fyn wonderlike gesiggie, en hy, en almal weet, sy is ʼn engel wat deur God gestuur was om juis die twee dae wat hulle as gemeenskap in soveel moeilikheid was, te kom regmaak vir hulle.
Sy gaan onafgebroke voort terwyl die personeel ruil, sy doen ʼn operasie wat ʼn wonderwerk bring vir die man wat ʼn voorloper in Hugo se groep is, en almal weet, in haar is daar geen kwaad nie.
Wanneer die span Desmond na tien ure onder narkose deurstoot na die hoësorg eenheid, druk Mauritz haar teen sy hart vas, sy klou aan hom soos ʼn kind, die vermoeienis van die afgelope vier-en-twintig uur op haar voete het sy tol geëis, het al haar krag en weerstand weggeneem, en sy wil hom net teen haar voel, net in sy warmte vir ʼn paar sekondes baai. Hy tel haar op en dra haar tot by die hoësorg eenheid sodat sy seker kan maak Desmond is versorg.
Die hoësorg personeel, Neville en die studente neem oor, en hy dra haar na een van die oop beddens in die saal, druk haar teen die kussing vas wanneer sy protesteer, “Lê jy net hier, hier waar jy naby hom is, en slaap ʼn paar minute.”
Sy sluit haar oë, sien Mauritz in haar drome, en raak weg in die vergetelheid waarna sy so uitgesien het oor die afgelope tien jaar.
Hy trek die klein skoentjies uit, vou haar toe in die warmte van die komberse met sy liefde, trek ʼn stoel nader, vat haar hand onder die kombers in sy groot hand vas, sluit sy oë, en raak aan die slaap.

Dit voel vir Mauritz soos een minuut vandat hy sy oë gesluit het, wanneer die vreesbevange gil deur die gange kom, “Waar is die dokter? Asseblief gou Margret gaan sterf.”
Skielik is hy by hulle in die hoësorg afdeling, die groot man, grys van vrees met trane wat oor sy wange rol. Hy sien Zuluika wanneer sy haar kop lig, “Asseblief Dokter, om Gods naam kom help my vrou.”
Zuluika bly vir een oomblik lê, kom orent, en kyk na Mauritz, hy sien die grys van die vermoeienis op haar gesig, sien die stramheid soos wat hy ook in elke ledemaat voel, en hy kan nie glo sy sal deur nog ʼn toets vannag moet gaan nie.
Hy staan op, trek haar skoene aan, help haar van die bed af, en volg haar waar sy reeds deur die deur, op pad na die ongevalle afdeling verdwyn.
Margret staan in die ingang, die pyn in elke plooitjie van haar gesig, en die bloed wat stroom teen haar bene af.
Zuluika weet hier is groot fout, en sy skud die vermoeienis af. Die volgende oomblik is die trollie by hulle, en tel geoefende, gewillige hande Margret Grant op die trollie, hulle wag vir haar instruksie, “Neem Margret teater toe,” en die groep beweeg onmiddellik.
“Kry vir Werner asseblief,” en sy kyk na Rhoda, “Dit is nou die gebeurtenis waarvoor ons, ons broeikaste gereed gekry het. Kry asseblief die opgeleide kraamsusters so gou as moontlik hier asseblief Rhoda.”
Sy kyk na die verwese mens langs haar, en sonder enige verwyt of venyn, “Meneer Grant gaan asseblief saam met Rhoda en kry jouself geskrop en in teaterklere.”
Sy kyk na Mauritz, “Sal jy asseblief vir Hugo help,” en met ʼn pleitende houding, “Sal jy ook asseblief skrop en in die teater wees.”
Sy kyk na hom en dit kom effens laggend, “Ek het hulp nodig, meer met Hugo as iets anders, want vanaand moet Hugo Grant die geboorte van sy kinders meemaak, sodat hy sal weet jy is dankbaar vir wat God jou gee, jy nie reg het om te dink jy kan kies nie.”
Mauritz weet, Zuluika weet alles van Hugo Grant se streke, en hy weet vandag sal die dag wees waar Hugo Grant terug aarde toe sal kom, terug na sy God sal kom, moontlik reeds klaar terug by sy God is.
Binne vyftien minute is almal gereed, voor sy begin, kyk sy op na Mauritz, en die blou oë bokant die masker gee haar die krag wat sy nodig het. Sy kyk na Hugo en al wat sy sien is trane wat stroom uit sy oë, “Asseblief Dokter, hou haar vir my veilig, asseblief.” Zuluika draai om en begin met die keisersnee om Margret se babas en haar lewe te probeer red.
Zuluika lig die baba versigtig op, sy ignoreer die aankondiging van die geslag van die baba, en suster Marie vat die baba, draai dadelik weg na die tafel wat gereed staan waar sy en Neville dadelik met die roetine begin om die babatjie se longetjies en hart aan die gang te kry. Die spanning is ondraaglik, en dan vul die welkome gehuil van die eerste baba die teater.
Mauritz voel hoe Hugo Grant swaar word aan sy arm, maar hy dwing hom regop, Zuluika het gesê, ‘Vandag moet Hugo Grant die geboorte van sy “kinders” beleef’, en hy, Mauritz, gaan dit verseker.
Met die lig van die tweede baba, sien Zuluika die derde outjie se koppie, en sy sê dit vir die span. Sonder om op te kyk vervolg sy, “Mauritz vang vir Hugo, hy gaan omval.” Mauritz en die personeel weet nie hoe sy dit doen nie, maar hulle weet, niks ontsnap haar nie, en hy is net betyds om Hugo te vang wanneer hy soos ʼn dooie man afsak vloer toe.
Werner se stem kom met openlike verligting, “Margret se tekens is stabiel Zuluika, sodra jy seker is Margret is stabiel, kan jy gou na die babas kyk asseblief. Ek, Neville en die studente sal na Margret kan omsien vir ʼn paar minute.”
Zuluika ondersoek die babas deeglik, en verlig maak sy haar oë een oomblik toe, sy weet, ongeag die veelvuldige swangerskap, en die feit dat Margret nie haar volle periode gegaan het nie, is al drie babas naby volwasse groei, en kan sy onmiddellik nie iets ernstig verkeerd vind nie.
Sy gee instruksies vir die nasorg van die babas, en laat die kraampersoneel met die hulp van Peter Payne, die portiere en Rhoda-hulle dadelik in die broeikaste na die hoësorg afdeling neem, waar sy weet ʼn hele span verpleegspersoneel gereed staan om oor te neem.
Sy ruil haar chirurgiese handskoene, draai terug na Margret, en begin noukeurig saam met die span werk om die skade wat die swangerskap en die noodbevalling aan Margret se liggaam gedoen het, te herstel. Sy werk met ʼn teerheid wat hulle wat haar dophou, opval, hulle weet, lewe is vir haar belangrik.
“Werner sal jy, Neville, en Rhoda, vir my na al die pasiënte kyk, ek is gedaan en gaan nie die aandag wat die pasiënte nodig het, kan gee nie.” Hulle trek haar teen hulle vas, gee haar die versekering wat sy benodig, laat haar alleen en stap deur na die hoësorg saal.
Zuluika sak af teen die teater muur op haar hurke, oorval met die omstandighede. Sy weet, dit is meer as die chaos die afgelope ure, meer as die tien jaar wat verby is, dit is die wete wat in haar was toe sy die drie welgeskape babas gesien het. ‘Here sy het Mauritz Melville so lief, liewer as enige iets anders, en sy sou so graag die moeder van sy kinders wou wees, maar hy behoort aan ʼn ander, en sy het geen reg nie’.
Rhoda stuur Mauritz na die teater, daar waar sy weet die mensie is, hy kry haar daar, die bondeltjie vreugde van sy lewe, platgeslaan en in totale uitputting. Hy tel haar op, hou haar teen sy hart vas, en dra haar uit die hospitaal, op na haar huis.
Hy sit haar in die bed en gaan lê agter haar rug met sy arm om haar, beskermend en besitlik, hy weet sy is sy ander helfte, hy sal gaan regmaak wat verkeerd is, en dan moet sy hom net liefkry, want sonder haar is hy niks nie.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed