Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 4
Hoofstuk 4 – Wêreld Sonder Geheue
Zuluika gaan deur die ure van die lang vlug met verligting, elke uur is ʼn uur verder weg van die verlede, en nader aan die moontlikheid om weer nuut te begin.
Sy lees nie, sy kyk nie televisie nie, haar gedagtes loop lang paaie, seer paaie, maar ook vreugdevolle paaie. Zuluika weet die stilte ure is die tyd wat sy het om met haarself vrede te maak, met haarself ʼn ooreenkoms aan te gaan om haarself los sal maak van die verlede, haar weer ʼn kans te gee in hierdie nuwe hede, en sy doen dit in die twintig uur vlug na John F. Kennedy Internasionale Lughawe.
Die oorstap na die Portland vlug in John F. Kennedy Internasionale Lughawe gaan sonder voorval verby, maar die spanning is terug wanneer sy vyf ure later in die tou by die doeane op die Portland Lughawe staan, die vrees om weer in die noute van ʼn sel te wees versmoor haar.
Die woordelose roetine word vir een oomblik onderbreek, en die vrees is terug, “Hoe lank sal u verblyf in Amerika wees,” “Ongeveer vier maande,” en amper verskonend, “ek gaan die Locum Dokter posisie in die Grosswell Lumbar Maatskappy se hospitaal in Corvallis beklee,” en haar stem klink hees terwyl sy die beampte in die oë kyk.
Die klank van die stamp van die stempel bring verligting, sy kyk na die datum op die stempel, ‘een en dertig Desember twintig vyftien’, en vir haar is dit nie net die einde van die jaar nie, maar die einde van tien jaar se gevangenisskap.
Al wat sy op die oomblik kan dink, is, ‘Dankie Here, dankie hiervoor’, en sy stap in die groot vertrek in, neem ʼn trollie, sit haar bagasie daarop sodra dit op die voerband verbykom, en alles voel so normaal, sy voel so normaal.
Die gevoel van verligting wanneer sy deur die deure in die ontvangssaal inbeweeg, is onbeskryflik, en al wat deur haar gedagtes gaan, is, ‘ek is vry’.
Sy vind ʼn sitplek in die saal, stuur die boodskap na Lize se nommer, en die woorde in die boodskap wat binne enkele minute terugkom, verteenwoordig dieselfde vreugde wat Zuluika ondervind, ‘Jy is vry Zuluika, ek is verlig. Ek gaan die boodskap vir Joos deurgee. Vind asseblief die kiosk waar jy ʼn nuwe SIM kaart kan koop, en laat hulle jou help om die foon in werking te kry, gee asseblief jou nuwe nommer deur na my’.
Zuluika doen navraag na ʼn selfoonverskaffer, en die beampte dui aan dat daar nie op die lughawe verskaffers is nie, maar wel in die middestad van Portland.
Hy skryf die adres van die AT&T verskaffer in Portland vir haar op ʼn papier en gee dit vir haar. Die gesprek en die aksies verinnig die gevoel van normaal wees, en Zuluika voel die verligting in haar, ‘Eindelik net weer die aksies van ʼn gewone mens, met gewone dinge’.
Sy stuur die boodskap deur na Lize en stoot haar bagasietrollie in die rigting van die lughawe se uitgang wat die jongman vir haar uitgewys het.
Wanneer sy uitstap in die bittere koue van die Desemberdag, is sy verlig, ‘Nou kan niks my meer keer nie’, en sy kyk na die sneeu wat amper ʼn halwe meter hoog teen die kant van die sypaadjies lê, voel die snerpende wind, en geniet die koue op haar gesig, en die besef is daar, sy kan voel, en dit is ongelooflik lekker.
Sy kyk na haar horlosie, waardeer die lugredery se aankondiging van die korrekte tyd. Sy weet sy het genoeg tyd om haar aankope in Portland te doen voor sy by die restaurant in Corvallis moet wees vir die rit na die hospitaal.
Sy neem haar bagasie uit die trollie en stap na die huurmotors wat voor die lughawe geboue geparkeer is. Sy word deur die huurmotor bestuurder wat haar nader, gehelp om haar bagasie in die bagasiebak te sit. Sy gee hom die aanwysing, en binne minute is hulle op pad na die middestad van Portland.
Die bestuurder vra die vrae wat hy aan ander besoekers sal vra, en sy deel dit sonder vrees. Hy beduie haar waar die AT&T diensverskaffer is, en ook waar sy moontlik al haar benodighede kan aankoop. Wanneer Zuluika haar bagasie neem besef sy dit is te veel om vir ʼn lang periode te dra. Die huurmotor bestuurder help haar, om haar tas oop te maak sodat sy die viool en hobo tasse in die amper leë tas kan verpak. Met net haar halfvol tas op wiele en haar mediese tas wat sy bo-op die tas laat rus, sê sy dankie, en stap sy gemaklik die sentrum in.
Sy vind die AT&T agentskap, en sodra die diens op haar selfoon in werking is, vra sy die verkoopsagent om haar te help om die boodskap met haar nuwe nommer deur te stuur na Lize. Sy weet dit is nag in Suid Afrika, maar sy weet wat sy beloof het, is nou gedoen.
Sy gaan rustig deur haar aankope, haal later weer die viooltas uit haar kleretas, berg die nuwe aankope, en vra rigting terug na die straat om ʼn huurmotor te neem na die Portland Internasionale Treinstasie.
Sy wag geduldig in die tou en koop die treinkaartjie, koop ʼn wegneem koffie by die kiosk en gaan wag in die wagkamer. Alles ʼn repetisie van tien jaar se gedwonge geduld, maar met die een groot verskil, daar is ʼn opgewondenheid in haar vir dit wat volgende kom, wat vir tien jaar nie deel van haar gevoel was nie.
Die opklim op die trein, die berg van haar besittings in die stoorarea bo die sitplek, neem haar terug na ʼn lank gelede reis deur Europa saam met Rudolph, en die herinnering vul haar met warm hartseer.
Die vreemde wit wêreld wat deur die treinvenster verby flits, maak ʼn lêplek in haar gemoed, vir die mens se oog, al die mooi en die lelik weggesteek onder die sneeu, soos sy, en wie sy was, weggesteek is deur die uitwissing van die identiteite gekoppel aan haar verlede.
Sy sien die wit reinheid, sy weet, dit is sy nie, sy is op hierdie stadium, net die koue wit landskap wat verby flits, maar sy weet, sy wil dit verander, sy wil weer warm emosies beleef, sy wil weer leef.
In Corvallis vra sy rigting na die koffiekroeg wat in die aanwysing in die brief is, en die huurmotor bestuurder knik sy kop, help haar met haar bagasie, en sy onthou al die hulp tot hier, en sy aanvaar die hulp, weet dit is ook deel van hierdie nuwe toekoms.
Met die instap en die gaan sit, voel sy die warmte haar omvou, terwyl die reuk van koffie en varsgebak ou herinneringe in haar wakker maak, ‘Lank gelede by oom Louis, het die aroma van varsgebak en stomende koffie, liefde en beskerming verteenwoordig, en sy bid daarvoor’.
Sy plaas haar bestelling, en die kelner bring haar beker swart ’Americano’. Sy sit terug en proe die bekendheid wat jare se koffie drink bring, en sy is reg om te wag vir die bestuurder van die saagmeule se voertuig wat haar iewers vandag sal oplaai, daar is geen haas in haar nie, dit is die eerste dag van die res van haar lewe, en sy het tyd.
Die tyd wat aanstap, die mense wat in haar rigting kyk, oor haar, ‘die vreemdeling’, wonder, en dit alles is reg met Zuluika, sy laat dit verbygaan, ‘gemeenskappe waar almal mekaar ken, vandag is sy die vreemdeling, maar wie weet wat in die tyd hier kan gebeur’.
Die knik van die man agter die toonbank in haar rigting, die skalkse handwuifgroet van die twee mans wanneer hulle aanstap in haar rigting, en haar terug wink maak ʼn opgewondenheid in haar wakker, wat wil oorborrel.
Die groet, “Andrew Grube, Mitch Bell van die Grosswell Lumbar Maatskappy,” bring die nodige rus. Die bevestiging in die bekendstellingsbrief wat deur die groot sterk hand na haar uitgehou word, en die bevestiging van die besonderhede op die maatskappy se briefhoof. “Dokter Zuluika Zuess, Locum,” en die groot hande omvou om die beurt haar klein handjie.
Vir hulle is sy net te klein, net te fyn, en te veel vrou om in die skoene van ou dokter Friedrich te pas. Gelukkig is dit net drie tot vier maande, die stil tyd van hulle jaar, sy kan dalk daar deur kom.
Sy sien dit in die kyk na mekaar, voel die vasberadenheid in haar opstoot, maar die vriendelikheid is daar, en dit is al wat vandag vir haar tel.
Die viooltas hou albei se blik, en Zuluika weet wat hulle dink, ‘Klassieke konsert stoffasie, eerder as mediese dokter’, en ʼn baie ou onthou van die misken van haar kwaliteite as persoon, is terug.
Sonder verdere ophaal trek hulle elk ʼn stoel uit en die aansit aan ‘haar’ tafel, bring ʼn gerusstelling in haar. Saam met die bestel van hul kos en die uithaal van die groot warm fles, kom die verduideliking in haar rigting, “Koffie vir ons drie vir die rit boontoe,” effens verskonend, en sy waardeer die erken van haar as persoon.
Sy wonder oor ‘die boontoe’ want sy is onder die indruk dat die hospitaal nie te hoog op in die berge is nie, en sy vra daarna.
“Ons dorp en die hospitaal is vyftig kilometer op in die berg naby die saagmeule.” In ʼn effense sagter toon verduidelik Andrew Grube haar asof hy haar gerus wil stel, “Die pad is goed, maar met die erge sneeu vanjaar is dit nou redelik gevaarlik op teen die berg. Dit kan ʼn hele paar uur vat om die rit af te lê.”
Zuluika knik haar kop, “Dit is reg met my, dankie Andrew, indien ek jou Andrew kan noem?” Die knik van sy kop is genoeg vir haar.
Skielik is albei die mans lus om haar in te lig oor Corvallis en ’Grosswell‘, en leer sy die plek ken waar sy ʼn paar maande gaan deurbring in die etensuur saam met hulle. Hulle is so begerig om inligting te deel en gee mekaar amper nie kans om klaar te praat nie.
Zuluika hoor Corvallis is die parlementêre setel vir Benton, hoor hulle het reeds meer as honderd duim sneeu gekry, waar die gewone gemiddeld in Desember slegs vyftig duim is. Asof hulle glo, sy in alles wat studente of medies is, belang sal stel, vertel hulle opgewonde dat Corvallis eintlik ʼn studente stad is, en bevestig hulle die feit oor die studente dokters wat op ʼn voltydse basis by die hospitaal kom werk vir hul praktiese opleiding.
Hulle sien haar belangstelling, en vir hulle sê haar gesigsuitdrukking wat hulle wil sien, en dit is ook vir hulle twee genoeg.
Asof hy Zuluika tog wil toets, sê Mitch, “Indien daar nog meer sneeu in die volgende dae en weke gaan val, sal die bergpas onbegaanbaar wees, en mag die hospitaal en die saagmeule afgesny wees van Corvallis.” Hy kry sy beloning wanneer Zuluika haar blik lig en direk opkyk in sy oë. Sodra die effense ligstreep op haar gesig val, en oor haar oë rol, sien hy dit, en trek hy sy asem in, “Jy het twee verskillende kleur oë Dokter.”
Nou lag sy vir hom, sy weet indien hy haar wou skok oor die ‘hospitaal wat afgesny sal wees’, het haar oogkleur die wind uit sy seile gevat. “Ja,” en sy lag. Nou hier, totaal anders as wat sy die afgelope jare gevoel het, in ʼn plek waar daar nie enige rede vir humor was nie, voel sy lus om sy siel uit te trek, om net snaaks te wees, “Jy weet seker wat hulle oor mense met twee verskillende kleur oë sê?”
Albei is nou gefassineer en Zuluika geniet die gevoel van vry wees om net hulle been te trek, vir die eerste keer in tien jaar is die ou Zuluika terug, die Zuluika wat so ʼn wonderlike humorsin gehad het, en sy geniet hulle verwarring terdeë.
“Nee,” kom dit versigtig van albei.
“O, mense met twee kleure oë, kan soms, in sekere situasies, die toekoms sien, en ook in sekere situasies ander mense se gedagtes lees.” Nou is daar openlike ongeloof op die twee se gesigte en sy geniet elke oomblik daarvan, sy kan ook hulle spelletjie speel besef sy. Sy sien hoe die erns op haar gesig albei geweldig verwar, maar sy los hulle in hulle vertwyfeling.
Asof iets hom waarsku, kyk Andrew op sy horlosie, “Ons moet aan die gang kom, ons is reeds laat en gaan in pikdonkerte die bergpas aanvat.” Andrew wink in die rigting van die kelner en Zuluika maak haar sak oop om haar deel van die rekening se geld uit te haal, maar Andrew wink dit weg met ʼn swaai van sy kop, “Grosswell het ʼn rekening hier en dra die kostes.” Wanneer die rekening voor hom neergesit word, teken hy daarop en gee dit terug.
Die wete is in Zuluika, ‘Sy was altyd gedra deur ander se goeie dade’, en sy voel ʼn ontsettende weemoed na al die goeie mense wat haar bygestaan het wat verlore gegaan het vir haar, oor een oomblik se onbesonnenheid. Sy betig haarself in haar gedagtes oor die oomblik van swakheid, en dwing haarself om die gevoel van verwyt af te skud.
Die insit van haar tas, mediese sak en viooltas agter in die kajuit, die inhelp van haar in die hoë kajuit in, en die toemaak van haar bene met ʼn kombers, bring ʼn knop in haar keel, ‘Wanneer laas het iemand so ʼn persoonlike iets vir haar gedoen?’
Die deel van die koffie met haar deur die twee jongmans, wat haar nou met openlike bewondering as ʼn deel van hulle aanvaar, versterk haar begeerte om hier in die wit ewigheid, weer op dreef te kom, weer rigting te kry.
Die aanraak van hul skouers wanneer die vragmotor oor die ongelyke oppervlakte voortbeur, bring die bekende ’noute-gevoel‘ in Zuluika, maar die gevoel is nou gekoppel aan ʼn gevoel van vryheid, en die verligting is in haar.
Dit is laataand wanneer die voertuig voor die hospitaal stilhou. ʼn Nuwe respek tussen die drie, hulle met hulle vernuf om die voertuig deur die meter hoë sneeu te kry, en sy sonder woord of gebaar deur die helse rit. Geduldig met die vasval, vreesloos deur die gly op die ysbeslaande pad, stilswyend deur die geswets, en hulle weet, hierdie vrou is net in postuur ʼn ‘klein mensie’.
Vir laataand is daar baie aktiwiteit waar die lig brand, en Zuluika voel die gewaarwording in haar, die gevoel wat sy as medikus kry wanneer daar nood is, en haar voorgevoel sê, hier is nood.
Twee stelle groot hande tel haar, haar bagasie en haar mediese sak uit die kajuit, en sonder om te twyfel stap Zuluika skouer aan skouer met haar viooltas onder haar arm saam met die mans na die lig wat warm en welkom in die portaal van die hospitaal wink.
Vir hulle twee is die aktiwiteite chaos, vir haar is die bloedspatsels op die vloer, ernstige bloeding, ernstige beserings, haar wêreld, daar waar sy tuis is.
Met die instap kom die inligting van die enkele persoon wat uitgekom het toe die vragmotor stilgehou het, “ʼn Vragmotor het omgeslaan, vyf mans is beseer, vier ure gesukkel om hulle van die berg af te bring in die sneeu.”
“Ek is dokter Zuluika Zuess, die locum, met wie praat ek, en waar begin ek help?” sê sy in een asem. Die een oomblik se stilte, die kyk na die mensie agter die stem, en sy sien haar, klein, perfek, gitswart hare teen die bleek gesig, en die viooltas vasgeknyp onder die arm, en sy deel nie dieselfde gedagte wat die twee mans met die eerste sien gehad het nie.
Die verligting is duidelik in die stem, “Dank God Dokter, jy is hier, ou dokter Friedrich, sowel as dokter Benson is vanoggend weg saam met die vragmotor,” en met ʼn effense verskoning in haar stem, “Ek is Rhoda Ross, die Matrone.”
Zuluika sit die viooltas neer, neem die hand in hare, en vat die mediese tas met haar ander hand uit die groot hand wat dit na haar uithou, en met ʼn knik van die kop volg sy Rhoda Ross in die rigting van waar die chaos duidelik gehoor kan word.
Met die instap in die ongevalle afdeling neem Zuluika alles in, vyf trollies met die bebloede mans, die verpleegpersoneel gebukkend oor die trollies, en die man met die swart krullerige hare wat tussen alles staan.
Rhoda Ross se stem kom duidelik bo die geluide van die chaos, “Almal kom een oomblik tot bedaring asseblief, dokter Zuess is hier,” en met verligting in haar stem, “Dokter Zuess sal u asseblief oorneem.”
Zuluika sien die fokus op die gesigte, sy weet, hierdie is ʼn span wat weet hoe om nood te hanteer, hulle is dalk effens onkant gevang, maar hulle weet wat om te doen. “Watter pasiënt is die ernstigste? Die res van die spanne kan voortgaan waarmee julle besig is tot ek by julle pasiënt kom.”
“Dokter, hier asseblief, ek glo Pablo het inwendige bloeding,” en Zuluika volg die stem van die verpleegster wat haar hand effens lig in erkenning.
Met die neersit van die tas, knip sy hom oop en vat sy haar stetoskoop raak. Die chirurgiese handskoene verskyn oor haar skouer, en dit is Rhoda Ross se hand wat dit aangee. Sy kry die bekende gevoel wanneer sy dit oor haar hande trek, en die wete is in haar, ‘Hierdie is haar passie, dit is wat sy kan doen, wil doen, sy is tuis’.
Na ʼn deeglike ondersoek, weet sy die diagnose is reg, die swelling in die buik, die lae bloeddruk, die anemiese kleur, en sy weet die inwendige bloeding is daar, en dit is gevaarlik.
Die volgende oomblik is die koevert met die X-straal plate voor haar oë, en wanneer sy omkyk is dit ʼn skraal jongman wat dit uithou, “Peter Payne, radioloog, Pablo se plate,” en die bewondering is in haar vir die effektiwiteit.
Sy stap na die ligkas teen die muur, stamp die plate tussen die knippe in, en skakel die lig aan. Peter Payne stap vorentoe en met die punt van die pen in sy hand verduidelik hy sy bevinding, en Zuluika stem saam.
Die ondersoek van die ander vier mans is vinnig en deeglik, sy kyk na die X-straal plate en gee haar instruksie vir die onmiddellike behandeling van elkeen. Haar evaluasie van die beserings wys duidelik gebreekte bene, wat chirurgiese prosedures sal benodig. Zuluika Zuess, die geneesheer is in beheer.
“Berei Pablo voor vir teater. Het ons ʼn narkotiseur aan diens?” en sy glo indien hier ʼn radioloog op diens is, sal hier ʼn narkotiseur op diens wees, en daar is tot haar verligting.
“Ja Dokter, ek is die narkotiseur, Werner Graff,” en wanneer sy omkyk, staan hy daar, ouerige man, wakker oë, oë soos oom Louis, en sy voel gerus.
“Wonderlik Dokter, gaan voort met jou prosedures, ek gaan gou saam met die personeel die ander vier mans so gemaklik moontlik maak, almal sal vannag geopereer moet word. Is al die teater personeel hier, indien hulle nie hier is nie, laat haal hulle asseblief, ons gaan ʼn baie lang nag hê. Rhoda is daar enige ander chirurge wat moontlik kan inkom,” en Rhoda skud haar kop, “Ongelukkig nie Dokter,” en sy aanvaar dit.
Sy draai terug na Pablo wat by sy positiewe is maar wat in duidelike pyn en verwarring is, en met ʼn kalm stem, en haar hand gerusstellend op sy arm, gee sy hom ʼn kort beskrywing van wat hulle vermoed, “Jy het inwendige beserings en ons gaan jou buik open en die skade herstel. Ons sal eers die omvang van die skade kan bepaal sodra jou buik oop is, maar vertrou ons, vertrou my.”
Wanneer sy terugdraai na die volgende pasiënt is die jongman daar, “Josh Grube, finale jaar mediese student wat prakties hier doen,” sê hy. Sy waardeer die ekstra hande vanaand, sy weet goed sy sal vannag hulp nodig hê om wonde toe te werk, en sy weet uit eie ervaring, finale jaar studente het baie oefening daarin.
“Goed Josh Grube, jy kan ook skrop sodra ons teater toe gaan, ek sal jou hulp kan gebruik met die laserasies.” Die glimlag op sy dankbare gesig laat haar terugdink aan haar studente dae toe hulle toegelaat was om te assisteer met roetine operasies.
“Ek het ʼn boodskap deurgestuur na dokter Neville May, een van die drie algemene praktisyns wat ook hier in die hospitaal diens doen, om so gou as moontlik in te kom. Alhoewel hy nie ʼn chirurg is nie, doen hy ook kleiner prosedures wanneer hy aan diens is,” kom dit van Werner.
“Wonderlik Werner. Rhoda sal jy dokter May ook laat skrop en inkom sodra hy arriveer asseblief.” Met die knik van haar kop bevestig Rhoda.
“Hoeveel teaters het ons?” “Drie, Dokter.” “Kry asseblief al drie teaters gereed, ons sal die eerste twee teaters moet steriliseer voordat ons die vierde en vyfde pasiënt daar opereer. Zuluika kyk op van die pasiënt wie se lewenstekens sy herbevestig, “Maak die pasiënt gereed asseblief ons sal sy operasie na Pablo in teater twee doen.” “Maxwell,” sê ʼn paar stemme gelyk.
Zuluika kyk op en sien die ernstige gesigte, “Sodra ons uitkom na Pablo se operasie, sal ek kyk wie derde geopereer sal word. Ons sal verder na elke operasie ʼn dertig minute rus periode neem, om iets te eet en te drink, en om die personeel geleentheid te gee om teater een en twee te sterliseer,” en die woordelose kopknik bevestig hul instemming.
Die spoed en vernuf waarmee Zuluika die verpleegpersoneel se diagnoses gevra het, haar observasie van die pasiënt en onmiddellike diagnose daarna, laat almal sprakeloos, hulle weet, sy is gewoond aan chaos, en Zuluika se oënskynlike kalmte hier in die chaos bring stadig maar seker kalmte en orde.
Zuluika voel weer die dankbaarheid vir die geleentheid wat haar gegun was om die tien jaar te werk en te leer in die gevangenis hospitaal, daardie vergunning wat nou haar hantering van die situasie verseker.
Sy herroep professor Jean Roux se woorde die dag toe sy as spesialis gekwalifiseer het, ‘Jy is so ontsettend begaafd Zuluika, ongeag of jy jou beroep hier binne in die gevangenis, of daarbuite in die vryheid beoefen, jy is ʼn top presteerder en ʼn uitstekende chirurg, moet nooit daaraan twyfel nie’, en sy weet sy is.
Sy werk skouer aan skouer met die span, hulle sit tydelike spalke op die gebreekte arms en bene, stop erge oppervlakkige bloeding en verbind die wonde vir tyd en wyl totdat die span dit behoorlik later in die teater sal heg. Almal besef die gevaar wat die versplinterde bene, indien dit nie behoorlik geïmmobiliseer is nie, inhou.
Zuluika lig elke pasiënt in oor haar bevinding, en wat sy en die span gedurende die operasie sal doen. Tussen die pyn op die gesigte, is daar waardering vir die meelewing, vir die verstaan van die verwarring, en sy neem die verwarring en onsekerheid weg.
Sy draai na Werner, “Ek gaan moontlik vir elke pasiënt met erge been frakture, ʼn epidurale kateter insit om die pyn te beheer, het ons genoegsame voorraad?”
“Ja Dokter, ons is goed toegerus, ons het alles wat u in ʼn groot hospitaal sal vind.”
“Ons kan moontlik ook vir Pablo in ʼn geïnduseerde koma plaas vir die eerste paar dae, reg daarmee?”
“Ja, reg daarmee.”
Sy draai om, en die swartkop man is voor haar, en met ʼn hand wat ʼn welkom wuif na haar waai kom dit, “Hallo, ek is Mauritz Melville, die predikant,” en wanneer sy opkyk in sy gesig, is dit die blou oë onder die swart krulhare wat sy sien, en dit is so bekend, maar nie aan hom nie, aan Rudolph, en sy is onkant gevang. “Zuluika Zuess,” sê sy met ʼn verbete poging om die gelykmatigheid in haar stem te hou.
“Kan ek help?” kom dit wanneer hy haar liggies vir een oomblik aan die skouer raak, en Zuluika voel die hand teen haar, en dit ontstel haar, maar sy behou haar balans, tien jaar se oefen balans.
“Ja, asseblief, help om dinge hier te beheer, en nog iets, die gesinne van die pasiënte, indien hulle hier naby is, kry hulle in asseblief. Help asseblief vir Suster Ross om aan hulle te verduidelik wat die beserings is,” Sy sê-vra effens verskonend, “Indien jy ook die kombuis sal versoek om koffie en toebroodjies gereed te hou vir die span asseblief.”
Mauritz sien alles van die vrou op eenslag, mooi, klein, skraal, sterk, en hy voel ʼn geneentheid teenoor haar, en die gedagte is in hom, ‘Al die chaos en nou hierdie mensie’.
Hy knik sy kop, “Ek sal dinge hier buite aan die gang hou,” en met sy wegstap, voel sy ʼn verlies.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.