Aardsengel
In haar waansin wou sy ook weet
wie se beeld lê dan in haar geskape —
‘n rib, wat nie heeltemal pas;
stof wat stink in haar siel.
Terwyl die blou in die weste goud word
wens sy weerbarstig en waardigterlik –
haar vonnis en sy lot is klaar verseël
met die swaard van gereg reeds teen ‘n keel.
Kom daar dan geen einde; geen uitkoms meer
wanneer liefde verkanker teen pikswart teer
net om die vrot plek in ‘n lekhart vol sout te smeer.
In haar waansin sing sy selfs ‘n wandellied;
solank as wat jou voetspore deur haar vingers bloei –
gil sy tussen starende stiltes van sterre
teen die lewe se f-e-l-l-e slae.
“Wie het haar dan gestuur
en wat moet sy hier doen?”
Háár vlerke het sy lankal reeds opgevou.
© 2017 Caren Kearley
Kopiereg voorbehou
* waardigterlik: digter en waardiglik: op waardige wyse
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.