
Meimaand se mantra
Iewers op die oewers
van my lewe
het Meimaand
jou kom kry.
Jy wou weet
of my son jou ook sal vergeet,
of sy strale jou voetspore sou afmeet
in die lig van my volmaan
waar drome ruimteloos
deur die lug sou sweef.
Jy wou weet
of jou stem sou dwaal
deur die gedagtegange van my dae
terug na daardie dag
toe jy nog jou vingers
deur my hare kon vleg
terwyl ons luister
na die mantra van Eros.
Al wat ek wou weet
is of jy my kon hou
in die palm van jou hand se walm
sonder om te talm,
my vas te klem
of te smoor
terwyl ek dans oor die oewers
van jou lewenstroom
tot by die mond van jou oseaan.
© 2017 Caren Kearley
Kopiereg voorbehou.
3 Kommentare
-
Koekekranka
Spontaan, pragtig!
-
Palet
Baie mooi
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April ope afdeling projek